Onderwerpe

D1.  DIE ANDER MAN IN MY LEWE

Jesus en die vrou van Samaria.

Gebaseer op die gebeure wat in Joh 4:1-42 opgeteken staan.

Die Samaritane het, soos die Jode, ook 'n messias verwag, maar dit sou iemand soos Moses wees. Hier word gewys hoe Jesus die lewe van 'n eensame, veragte vrou verander. Op sy unieke manier gebruik Hy 'die vrou met die reputasie' om die mense van haar dorp se oë oop te maak vir die ware Messias.

D2.  DIT WAS JAAR 39

Die dag toe Kapernaum en Betesda se gesondes mekaar ontmoet het.

Gebaseer op twee gebeure: Die genesing van die verlamde man van Kapernaum (Matt 9, Mark 2 en Luk 5) en die genesing van die man by Betesda (Joh 5)

Die bogenoemde gebeurtenisse word hier gekombineer. Nadat die Betesda-man vir Jesus by die tempel raakloop, ontmoet hy ook daar die voorheen-verlamde man van Kapernaum en sy vier vriende. 'Omgee' kry vir die Betesda-man nuwe betekenis en gee vir die man van Kapernaum nuwe rigting.

D3.  ÍS HY OF IS HY NIE?

Johannes die Doper in die tronk

Gebaseer op gebeure in Matt 11 en Luk 7.

Die twee dissipels wat deur Johannes gestuur is om by Jesus te gaan seker maak of Hy regtig die Messias is, kom doen verslag by Johannes in die tronk. God gebruik die getuienis van hierdie manne om Johannes se geloof te versterk en 'n bewaarder tot geloof te bring.

D4  TALITA KOEM!

Vrouedag by Jaïrus se huis.

Twee verhale word gekombineer: die genesing van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het en die opwekking van die dogtertjie van Jaïrus.

Dit staan opgeteken in Matt 9, Mark 5 en Luk 8.

Die vrou wat pas deur Jesus gesondgemaak is, kom by Jaïrus se huis verskoning vra vir die oponthoud wat sy onwetend veroorsaak het toe Jaïrus se mense vir Jesus kom roep het. Daar vind ‘n wonderlike ontmoeting tussen twee ma’s en twee dogters plaas. En 'n nuwe wêreld gaan vir hulle oop.

D5.  MET MY PADKOS

Die vermeerdering van die brood: vier manne, vier stories.

Gebaseer op die gebeurtenis wat in Matt 14, Mark 6, Luk 9 en Joh 6 opgeteken is.

’n Pa en sy twee seuns is, saam met sy swaer en honderde ander mense op pad terug huis toe nadat Jesus 5000+ mense gevoed het – met een van die seuns se vyf brode en twee vissies. Pa is teleurgesteld in Jesus wat weier om as aardse bevryder van die Jode op te tree. Die seuns sien die wonder raak.

D6  WIE, ONS?

Andreas se indruk van die vermeerdering van die brood.

Hierdie monoloog is gebaseer op die gebeure in Matt 14, Mark 6, Luk 9 en Joh 6.

Andreas gee 'n insiggewende en hartverwarmende indruk van die massawonder wat op 'n dag in Betsaida plaasgevind het.

D7  KRUMMELTJIE

Die dag toe 'n heidengesin se lewe omgekeer is.

Gebaseer op die gebeurtenis wat in Matt 15 en Mark 7 opgeteken staan.

'n Kind is in die mag van 'n bose gees. Niks en niemand keer haar heidenma om by Jesus uit te kom nie. Nie alleen die dissipels nie, maar Jesus self is verstom oor die vrou se geloof. Hy bring redding vir die ma en haar kind en die pa en die buurvrou.

D8  UITGERAFEL!

Die man en die vrou en die skrifgeleerde

Gebaseer op gebeure in Joh 8: 1-11.

Een van die skrifgeleerdes wat deelgeneem het aan die berekende plan om 'n owerspelige vrou na Jesus toe te sleep om te kyk hoe Hy hierop sou reageer, het Jesus se boodskap verstaan. Hy kom vra die vrou om verskoning. By haar huis tref hy egter twee mense aan wat self skaam is vir hulle optrede. Hoe die drie mense by die waarheid uitkom en as vry mense uitmekaar gaan, word hier uitgebeeld.

D9  TOE EK WÉÉR SIEN

Die opskudding wat die blindgeborene veroorsaak het.

Gebaseer op gebeurtenisse wat in Joh 9 opgeteken is.

Die genesing van die blindgeborene het 'n reuse-opskudding veroorsaak. Die wonder van sy genesing word egter baie gou verdwerg deur die vraag wat die leiers van die sinagoge moet doen met 'n mens wat erken dat Jesus hierdie wonder gedoen het. Die spanning tussen die blindgeborene en sy pa bereik byna breekpunt. Maar dan vertel hy vir hom waarom Jesus hom gesond gemaak het.

D10  LOS MAAR, HET EK GEDINK

Marta praat oor haar broer se opstanding uit die dood.

Hierdie monoloog is gebaseer op die gebeure wat in Joh 11: 1-44 opgeteken is.

Marta vertel hoe die gebeure rondom haar broer Lasarus se dood en opwekking haar geraak het en hoe sy vir die eerste keer werklik begryp het wie Jesus is – die Een wat lewe gee!

D11  GELD EN GOED

Drie gebeurtenisse word hier gekombineer:

Die roeping van Matteus/Levi (Matt 9, Mark 2 en Luk 5)

Die ryk jongman (Matt 19, Mark 10 en Luk 18)

Jesus eet by tollenaar Saggeus (Luk 19)

Die ryk jongman is teleurgesteld met Jesus se antwoord op sy vraag wat hy, behalwe gehoorsaamheid aan God se gebooie, nog moet doen om die ewige lewe te beërwe. Op pad na Jerusalem vir die paasfees, maak Levi, die tollenaar-dissipel van Jesus, vir hom duidelik wat Jesus dink oor besittings. As hulle genooi word om Saggeus se maaltyd vir Jesus by te woon, is hulle saam getuies van die ommekeer in die lewe van die hooftollenaar van Jerigo.

D12  ROWERSNES!

Natanael en Tomas praat oor Jesus se reiniging van die tempel.

Hierdie tweegesprek is gebaseer op gebeure in Matt 21, Mark 11, Luk 19 en Joh 2

Jesus se hemelvaart is verby. In afwagting op die vervulling van sy belofte dat Hy sy Gees sal stuur om hulle te troos, kom die dissipels gereeld in die tempel bymekaar. Vandag praat Tomas en Natanael weer oor Jesus se ongewone optrede en uitsprake op die tempelplein kort voor sy kruisiging.

D13  IEMAND BY DIE VOORDEUR

Pontius Pilatus se paasfees.

Gebaseer op gebeurtenisse wat in Matt 27, Mark 15, Luk 23 en Joh 18 en 19 opgeteken is.

Pilatus het toegegee aan die druk van die Jode om Jesus te kruisig. In ‘n poging om die verantwoordelikheid vir sy besluit op te hef, was hy sy hande in onskuld. Hy kan egter nie tot rus kom nie. Hy en sy vrou Claudia volg die verloop van die gebeure vanuit vesting Antonia waar hulle vir die paasfees tuisgaan. Om homself te verontskuldig pak Pilatus die skuld van Jesus se dood op die Jode en koning Herodes. Die duisternis en aardbewings, maar veral die nuus dat Jesus uit die dood opgestaan het, ontsenu hom totaal. Die besoek van Josef van Arimatea aan die egpaar, bring hulle drie tot verstommende insigte.

D14  SAAM MET MY VANDAG

Die mense by Golgota.

Gebaseer op die gebeure by die kruis. Dit is in Matt 27, Mark 15, Luk 23 en Joh 19 opgeteken.

Drie manne hang elkeen aan 'n kruis op Golgota: twee rowers en een man wat volgens die Joodse Raad 'n godslasteraar en oproermaker is. Die moeder van een van die rowers en die Romeinse soldaat wat moet toesien dat die vonnisse voltrek word, kom voor die kruise langs mekaar te staan. Jodin en Romein word saam getuies van Jesus se vergiffenis vir 'n verlore seun en 'n gehate Romein.

D15  ONS WAT GEDINK HET ONS WEET

Nikodemus en Josef van Arimatea begrawe Jesus.

Hierdie tweegesprek is gebaseer op die gebeure wat in Matt 27, Mark 15, Luk 23 en Joh 19 opgeteken staan.

Jesus is dood. Josef van Arimatea kry toestemming dat Jesus in sy grafkamer begrawe mag word. Nikodemus, die man wat saam met hom lid was van die Joodse Raad, kom help hom om die liggaam te versorg, en vir die eerste keer erken hulle openlik dat Jesus die Messias is.

D16  AS JESUS VERGEWE

Petrus praat met die vroue in sy huis.

Gebaseer op gebeurtenisse in Matt 26, Mark 14, Luk 22 en Joh 10, 18 en 21.

Petrus kom met ‘n stralende gesig by sy huis aan met 'n paar groot mandjies vol visse. Maar dit is nie die enigste opwindende nuus van die oggend nie. Hy en sy maats het die opgestane Jesus by die meer van Galilea ontmoet. Op 'n aangrypende manier vertel Petrus vir sy vrou en skoonma hoe Jesus hom daar gekonfronteer het met die vraag of hy Hom liefhet, en hoe Hy hom die opdrag gegee het om sy skape op te pas.

 

D17  VRYHEIDSVEGTER B

Barabbas en Simon die Seloot.

Hierdie tweegesprek is gebaseer op gebeure wat op die volgende plekke opgeteken is: Barabbas: Matt 27, Mark 15, Luk 23, Joh 18. Simon die Seloot: Hand 1:12-14.

Barabbas is losgelaat en Jesus is in sy plek gekruisig. Die onverwagte 'kennismaking' met Jesus het Barabbas se hele lewe deurmekaar gekrap. Hy het die opgestane Jesus gevolg net waar Hy gaan. Met die opspraakwekkende uitstorting van die Heilige Gees bereik hy breekpunt. Hy gaan spreek dissipel Simon Selotes. Dié voormalige vryheidsvegter behoort hom te verstaan en te help om die waarheid te ontdek.

D18  DIT HET BY MY OOR BEGIN

Aan die woord: Malgus, slaaf van hoëpriester Kajafas.

Hierdie monoloog is gebaseer op gebeure in Matt 26, Mark 14, Luk 22 en Joh 18.

 

Om 'n slaaf van die hoëpriester te wees was 'n bevoorregte posisie. Malgus het eerstehands kennis gemaak met Kajafas en sy huishouding, maar meer: hy het ook die Joodse Raad leer ken met al die netelige politieke en godsdienstige probleme wat hulle moes hanteer. Die optrede van rabbi Jesus was vir hulle 'n jarelange ergernis en om Hom vas te trek sekerlik een van hulle grootste uitdagings. Dié Man was ‘n bedreiging vir alles wat vir hulle heilig was. En dan was daar Petrus ...

D19  WEET MA!

Maria: om Jesus se moeder te wees

Hoe was dit om Jesus groot te maak? In hierdie monoloog dink Jesus se moeder na oor haar lewe sedert die dag toe die engel Jesus se geboorte aangekondig het. "Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het." Dit was haar antwoord op die engel se woorde. "Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee." Was Maria dapper ... of begenadig, of ... Om te probeer verstaan moet mens dalk onder Maria se vel inkruip. Met die uitstorting van die Heilige Geës het sy waarskynlik eers werklik begryp wat die wil van die hemelse Vader met Jesus was.

D20  MY VREDE GEE EK JULLE

mini drama vir kersfees

Vandag se mense glo nie meer blindelings nie. As mense hoor dat die engele met Jesus se geboorte vrede op aarde belowe, vra hulle: 'wat se vrede, wat jy waar kry?' Hoe werk God se vrede?

'n Jong man pluis dit saam met sy ouers uit.

D21  MOENIE VREES NIE?

vir Kersfees

Met kersfees luister ons graag na die mooi verhaal van vrede op aarde. Het hierdie eeue-oue verhaal nog iets te sê vir ons wat vandag in vrees lewe? In hierdie drama word 'n TV-ateljeesituasie nageboots. 'n Gespreksleier voer 'n onderhoud met Josef en Maria voor 'n ateljeegehoor.